
Wat is Sensoriese Integrasie?
Sensoriese Integrasie verwys na ons vermoë om al die inligting rondom ons deur ons sintuie waar te neem (te registreer, moduleer en diskrimineer), en dan die sensoriese inligting te organiseer sodat ons kan sin maak van ons wêreld.
Deur die sensoriese inligting rondom ons te integreer, vorm ons doelgerigte gedrag in reaksie tot ons omgewing.
Sensoriese integrasie vorm die basis van effektiewe emotionele regulasie, sosiale vaardighede, vermoë om te speel, perseptuele, grof- en fynmotoriese ontwikkeling.
Sensoriese Integrasie bestaan uit Sensoriese Modulasie asook Sensoriese Diskriminasie.
Sensoriese modulasie: Verwys na jou vermoë om jou reaksie op inkomende sensoriese inligting te gradeer, en dan daarop te reageer en op ‘n gepaste manier op te tree. | Sensoriese diskriminasie: Verwys na die vaardigheid om akuraat een stimulus van ‘n ander te onderskei, bv. Die verskil tussen die blaf van ‘n groot en klein hond, of om tussen ‘n R1 en ‘n R2 in jou broeksak te onderskei. |
Indien u kind een van die volgende tekens wys, is daar ‘n moontlikheid dat hy/sy met sensoriese integrasie sukkel:
- Oor of onder reaktief tot gevoel, beweging, visuele inligting of klank
- Maklik afleibaar
- Sosiale of Emotionele probleme
- Impulsief en verlies aan selfbeheersing
- Moeilik aanpasbaar in nuwe situasies
- Onderontwikkeling van spraak, grof en fyn motoriese vaardighede
- Verlaagde akademiese prestering
- Oor-emosioneel en geneig om “meltdowns” te hê
- Sukkel met selfsorg aktiwiteite, bv, hare kam, bad, tande borsel
Sensoriese integrasie behandeling:
‘n Arbeidsterapeut kan help met sensoriese integrasie. Terapie vind plaas in ‘n kamer vol van swaaie en prettige apparate, waar die arbeidsterapeut die kind deur spel sensories stimuleer en ontwikkel. Terapie fokus op sensoriese modulasie, diskriminasie en die regulering van sensoriese inligting.